Vrystaat boere raadop oor toenemende mieliediefstal

Boere in die Vrystaat is raadop met die toenemende diefstal van mielies wat in verskeie dele van die provinsie voorkom.

Rudi Jansen van Vuuren, veiligheidsverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL) in die Allanridge/ Odendaalsrus-area, sê dat daar in hul area beslis ‘n toename is in die tipe diefstal in vergelyking met vorige jare. Hy sê dat sommige boere soveel as R200 000 aan veiligheidswagtespandeer om lande te bewaak, maar selfs dié aksie skrik nie altyd die misdadigers af nie.

“Kommerwekkend is die groot getalle misdadigers wat op die lande toeslaan. Ons het al gevalle gehad waar taxi’s vyf groepe van tussen agt en vyftien persone aflaai en weer kom oplaai. Die misdadigers oordonder eenvoudig net die veiligheidswag, steel die toerusting waarmee die wag moet kommunikeer en dreig selfs die boere.”

Janse van Vuuren sê verder dat die veiligheidswagte in sekere van die gevalle self ook by die diefstal betrokke is. “Sekere wagte is al uit diens ontslaan soos wat boere dit agterkom. In die meeste van die gevalle het boere wel gemeld dat die wagte ‘n groot uitgawe is maar dat dit wel help om die tipe diefstal se impak te beperk.”

Dr Jane Buys, Veiligheid-risiko analis van VL, sê dat daar ook talle ander dele in die provinsie is wat onder dié misdaad deurloop. Areas wat gedurende Maart en April 2024 geraak is, is onder andere Bethlehem, Bloemfontein, Bothaville, Bultfontein, Clocolan, Fouriesburg, Jacobsdal, Koppies, Odendaalsrus, Reitz, Sasolburg/Zamdela (veral in die Wolwehoek area), Villiers en Wesselsbron.

Buys sê volgens inligting word plase in die Fouriesburg-area geteiken deur Basotho’s wat vanuit Lesotho opereer. “Hul steel mielies in sakke, plaas dit op donkies se rûe en beweeg dan so oor die grens. Waar boere hul konfronteer, hardloop hul weg en word die donkies en mielies herwin. Die tipe insidente vind gewoonlik in nagtelike ure plaas.”

Buys voeg by dat daar egter in baie gevalle weinig arrestasies plaasvind. “Indien arrestasies wel plaasvind, wil dit voorkom asof bewyslas ‘n groot probleem is en sake word in die howe uitgegooi.

Boere is geweldig gefrustreerd. Hulle moet gedurende nagtelike ure patrollies ry, en dikwels is die misdadigers gewapen wat ‘n groot veiligheidsrisiko vir hulle inhou”.

“Groot intervensies deur die boerderygemeenskap in samewerking met die SAPD en Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is nodig om dié tipe misdaad effektief aan te spreek. Die impak en omvang van die tipe misdaad in die area dui daarop dat die misdaad op ‘n georganiseerde wyse plaasvind en dat dit as ‘n georganiseerde misdaad geklassifiseer en ondersoek moet word deur beide die SAPD en NVG.”

Vrystaat Landbou sal die boerderygemeenskappe behulpsaam wees met die opstel en fasilitering van die intervensie gesprekke.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat boere raadop oor toenemende mieliediefstal

Category: Veiligheid Tags :