Vrystaat Landbou (VL) het vandag in ʼn verklaring gewaarsku dat die herhaalde veldbrande in die Vrystaat die weidingsveld ernstig beperk het. Volgens die Kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou, Dr Jack Armour, is die 2021 veldbrande aansienlik meer as vorige jare. “Gegewe die bykomende voernood in droogte geteisterde gebiede, is die gras- en lusernvoorraad uiters beperk”.
Volgens Armour, toon die amptelike veldbrandsyfers tot einde Julie dat daar reeds 340 000 hektaar se veld verwoes was. “Indien die Augustus-veldbrande in die Boshof/Dealesville area en die veldbrande van begin September bygereken word, is daar meer as 400 000 ha se veld verwoes”, het Armour gesê.
Die sterk droë winde tydens die naweek van 2-5 September 2021, was die ideale toestande vir veldbrande. Ondanks vroegtydige waarskuwings was die weerstoestande so dat nóg boere, nóg brandbestryders die veldbrande kon keer.
Tussen Winburg, Ventersburg en Virginia het meer as 52 plase se weiding afgebrand. Talle wild het ook in die nabye Willem Pretorius-wildreservaat gevrek. In die Dewetsdorp/Wepener-area het ʼn 30km strook afgebrand. In sommige gevalle het tot 90% van sekere boere se plase afgebrand. In een geval het 400 skaapooie dood gebrand. Groot brande het ook rondom Bloemfontein plaasgevind, veral in die Glen/Brandfort omgewing.
Volgens Armour, staan die landboubedryf aan die einde van die gras- en lusernseisoen. “Die beskikbaarheid van gras- en lusernbale is besig om af te neem en is plaaslike voerbanke byna uitgeput”.
Vrystaat Landbou het ʼn inisiatief geloods om voer van buite die Vrystaat aan te koop en nadie geaffekteerde areas te voorsien. Gegewe die koste van hierdie projek, het Vrystaat Landbou ook die steun van die gemeenskap en sakesektor nodig.
Die behoefte is aan voer en vervoer. Vrystaat Landbou doen daarom ʼn beroep op ondernemings of boere wat voer te koop beskikbaar het, of wat voer en vervoer kan skenk, om die organisasie te kontak. Indien individue ʼn geldelike bydrae wou maak, kan meer besonderhede op VL se webtuiste gevind word by https://vrystaatlandbou.co.za/fire-disasterfund/
Finansiële donasies kan ook direk aan Vrystaat Landbou se rampfonds gemaak word by:
ABSA, Rekening nr: 470940670, Tak: 632005 met verwysing “BRANDE” + u selnommer.