Die honde by Wollies Animal Shelter in Pretoria was in vir ‘n reuseverrassing toe Virseker en Hamilton Wessels vandag daar opgedaag het om ‘n belofte wat ‘n Afrikaans is Groot-wenner gemaak het te vervul.
Hannelie Minnaar van Doornpoort in Pretoria het einde verlede jaar ‘n Virseker en Afrikaans is Groot krap-en-wen kompetisie gewen waar sy ‘n allemintige R25 000 kontant losgeslaan het. Maar dit was nie al nie. Virseker het ‘n verdere R15 000 aan haar toegeken om aan ‘n liefdadigheidsorganisasie van haar keuse te skenk.
Sy het sonder enige huiwering besluit dat Wollies die een naaste aan haar hart is. Dis ‘n sentrum in Hesteapark wat in 2003 gestig is as ‘n dieresteriliseringsprojek – iets wat hul steeds teen ‘n minimale fooi doen – en sedertdien uitgebrei het na ‘n niewinsgewende organisasie wat na wees-, verwaarloosde- en mishandelde diere omsien. Daar is tans meer as ‘n duisend honde en katte, sowel as twee donkies, in hulle sorg.
Die Wollies-span het ‘n fenomenale roeping en harte van goud, maar taai ekonomiese tye en die stygende koste van dieresorg het hul befondsing erg geknou. Vandag se skenking van R15 000 se vyf en twintig kilogram sakke hondekos, danksy Hannelie se hart vir diere, sal ‘n groot impak maak vir ‘n organsasie en diere wat dit desperaat nodig het.
Lede van die publiek kan Wollies verder help deur van hulle pragtige diere aan te neem en aan hulle ‘n liefdevolle tuiste te bied, kontant- of produkskenkings te maak, vrywilligerswerk te doen by die organisasie en selfs hulle kollega’s aan boord te kry met ‘n spanbou-aksie vir ‘n goeie doel.
Cilla Trexler, woordvoerder vir Wollies, sê: “Julle het geen idee hoe baie ons die besoek vandag waardeer het nie. Ons was nogal moedeloos hierdie week en het baie vrae gevra. Toe ons vanoggend hoor Virseker is daar het ek net weereens besef, ons geloof is eintlik so swak. Daar SAL uitkoms wees. Baie dankie aan almal betrokke dat julle die tyd geneem het en gekies het om ons te ondersteun. Ons is meer as bevoorreg!”
Wessels sê, “Daar is niks so mooi as om te sien hoe mense ñ verskil maak in ander mense en diere se lewens én ñ egte passie daarvoor het nie, en dis presies wat die span by Wollies doen! Om eerlik te wees, as ek n hond of kat was, sou ek eerder by Wollies wou gebly het as by iemand se huis! Joggie en Cilla, dankie vir wat julle vir ons troeteldiere doen. Hierdie bydrae van Hannelie en Virseker maak ‘n reuseverskil, maar kom ons spring in en help hulle nog meer!”
Johanni Jennings, Hoof van Bemarking by Virseker, sê: “By Virseker is dit bitter belangrik om verder as net eersteklas versekering in jou taal te gaan, en daarom is dit vir ons ‘n reusevoorreg om vanuit ‘n trots-Afrikaanse grondslag hulp te kan verleen aan organisasies soos Wollies. Mense wat altyd ruimte in hul harte het om ander mense en diere by te staan is vir seker ons tipe mense, en ons reken op elkeen wat van hierdie skenking te wete kom om in te spring, hand by te sit, en nog viervoetige lewens ten goede te verander.”
Virseker en Afrikaans Is Groot gee wollies diere hoop, moedig publiek aan om hand by te sit https://t.co/0rhBcBdZm5#ArriveAlive #Diere #AfrikaansIsGroot #Virseker pic.twitter.com/qGsRqlU5dn
– Arrive Alive (@_ArriveAlive) July 27, 2024