Lede se stem die belangrikste by VL Kongres

“Ons lede is die belangrikste spreker by Vrystaat Landbou (VL) se kongres,” sê VL President Francois Wilken. VL vier vanjaar sy 120ste bestaansjaar by die kongres, die hoogste gesag van die organisasie, wat op 7 en 8 Augustus 2024 net buite Bloemfontein plaasvind.

“VL het in die laaste jare wegbeweeg van slegs hoë-profiel sprekers wat die nuutste inligting of interessante verwikkelinge in die landbou bespreek, na wat die lede werklik benodig om boerdery suksesvol en volhoubaar te kan aanpak. Verder is die kongres ook so uiteengesit dat afgevaardigde lede werklik kan kom deelneem aan gesprekke en insette maak, ” verduidelik Gernie Botha, hoof uitvoerende beampte, Vrystaat Landbou.

Hierdie jaar se kongrestema is “Quo Vadis?” , wat beteken, “Waar gaan jy?” Met hierdie tema, sal hoofsprekers lede uitdaag om die huidige realiteite van die organisasie asook die sektor te verstaan.

Prof Cobus Oberholster gaan kongres toelig oor die toekoms van die wêreld waarvoor landbouers hulle gaan moet rat om die volgende 120 jaar in te gaan.

Die Minister van Landbou, mnr John Steenhuisen, gaan sy beleidsrigting en planne uitspel en ook ‘n vraag en antwoord sessie behartig waar lede met die hom, asook die LUR van Landbou in die Vrystaat, me Elzabe Rockman, kan gesels oor kwessies wat op hul harte is.

Op die tweede dag sal Prof Johan Willemse praat oor “Winsgewendheid in landbou”. Hy gaan ook ‘n praktiese opsomming gee van hoe lede volhoubaar en winsgewend kan boer. Die Dagbestuur van VL sien uit om van hulle medeboere te hoor wat op hul harte is.

“Ons sien uit na ‘n kongres wat lede sal help om die realiteite van die toekoms met hul eie behoeftes te belyn.” sê Wilken. Benenwens die viering van die organisasie se 120ste bestaansjaar tydens hul dinee, sal spesiale toekennings gemaak word en word die Landbouvereniging van die Jaar wenners ook aangekondig.

Posted on by Media

Comments Off on Lede se stem die belangrikste by VL Kongres

Category: Gesprek Tags :